By ons kleuterskole in Mariental en Stampriet word 3 tot 7 jariges op ‘n speel-speel manier geleer om hulself voor te berei om na die “grootskool” te verhuis as hulle Graad R voltooi het. Met opgeleide personeel en assistent onderwysers kry elke kind die aandag wat hy/sy benodig en is hulle gelukkig en tevrede in hul eie omgewing.
Elke jaar aan die begin van die jaar word alle ouers met ‘n inligtingsdag op Stampriet ten volle ingelig wat van hul Graad R kleuter verwag word om skoolgereed te toets. Bekende persone wat kundiges in hul gebied is, besoek die skool en gesels met die ouers oor skoolgereedheid en emosionele gereedheid vir die koshuis en vir skool. Gehoor- en oogtoetse is ook aan die begin van die jaar beskikbaar vir die ouers om hul kleuters te laat toets. Later in die jaar word die Graad R’s wat Graad 1 toe moet gaan deur ‘n opgeleide sielkundige getoets en word ouers deeglik ingelig indien daar nog plekke is waaraan aandag gegee moet word.
Ons kleuters kry soveel geleentheid om te klim en klouter dat hulle grootmotoriese vaardighede sommer goed ontwikkel is teen die tyd dat hulle Graad 1 toe moet gaan. Kinderkinetikus, Hanrie O’Callaghan, werk op ‘n weeklikse basis vir ons grootmotoriese programme uit. Hierdie programme word gebruik tydens bewegingspele by ons Palmpikkie Kleuterskole in Stampriet en Mariental. Dit is fantasties om kundiges soos Hanrie betrokke te hê by ons skool.
By Privaatskool Elnatan is die holistiese ontwikkeling van ons leerlinge ñ prioriteit.
Ons bied elke jaar ook ‘n Kleuteratletiek aan waar kleuters van die omgewing uitgenooi word vir ‘n heerlike dag van atletiek en pret en plesier. Op hierdie manier kry die kleuters geleentheid om blootgestel te word aan atletiek en met maatjies van ander kleuterskole te sosialiseer.